Tuesday, December 29, 2009

Lamboudia, potholes en die groen Limpopo

Vandag is ons vyfde dag op die pad en ons het nou al 2 000 km's op die Enzo's se klok gesit! Vir die van julle wat ook bang is dat ons te vinnig om die land gaan ry - daar is "method in the madness"... Ons bou 'n bietjie kilometers op sodat ons bietjie kan afvat in die wilde kus en dan natuurlik ook vir die troue die 9de Januarie in Patensie! Om ons trippie betyds klaar te maak moet ons so average van 290km per dag ry en sover het ons al amper 3 "af" dae bymekaar gemaak!

Gisteraand was ons behoorlik bederf deur skoonpa Francois toe hy ons gestick het vir verblyf by Afri-Chic, 'n pragtige gastehuis in Rustenburg. Was heerlik om te bad, hare te was en droog te blaas en te slaap op iets wat soos 'n koning se bed voel - lekker bederf! As enigiemand weer verblyf soek in Rustenburg, bel vir Betsie - very nice!


Na heerlike brekfis het ons vanoggend die pad aangedurf Thabazimbi toe met pa Francois en die Condor as back-up crew vir die dag (en 'n cooler met bier!). Thabazimbi is pragtig groen en ek dink terug aan so bietjie minder as 4 jaar terug toe Francois my die kys gevra het hier tydens die wildsfees :o)
Ek was heeltemal verras met hoe mooi die pad was tussen Thabazimbi en Lephalale... Tot dusver dink ek is dit nog een van die mooiste paaie wat ons nog gery het. Dis pragtig groen en die bome staan hoog langs die pad. So 30km voor Lephalale kry ons 'n trop bobbejane langs die pad, elke tweede een abba omtrent 'n kleintjie. Ons ry onder die wolke uit en in Lephalale slaan die hittegolf ons... "boots" word uitgeskop en die crocs word aangetrek, maar ons vrek nog steeds :o)

Plek plek moet ons potholes dodge oppad All Days toe, maar uiteindelik arriveer ons by "At se Gat" net voor 6. Interessante plek, klein swart varkies, bestel jou dop uit die swembad uit en "anything goes". Lekker om die bosveld gevoel te kry :o)

More groet ons weer ons die support crew pa Vrankois en dan is dit terug na kamp :o) Maar eers gaan ons by Smith en Martie 'n draai maak in Letsitele!

No comments:

Post a Comment